Oudpres. Jacob Zuma Dinsdag ná die aansoek deur die ANC om die MK-party se registrasie onregmatig en nietig te verklaar. Foto: Mlungisi Louw


Die streep is in die sand getrek en die spiese word deur sowel die ANC as die uMkhonto we­Sizwe (MK)-party geslyp vir die verkiesing einde Mei.

Oudpres. Jacob Zuma, aan die een kant, het kort ná die verdaging van ’n sitting van die kieshof (wat in die appèlhof in Bloemfontein sit) gesê die MK-party gaan die ANC in die verkiesing die stryd aansê.

Fikile Mbalula, sekretaris­generaal van die ANC, aan die ander kant, het gesê as Zuma ’n politieke party wil stig, kan hy dit noem wat hy wil, maar hy mag nie die naam van MK gebruik nie.

“MK behoort aan die ANC. Ons staan hier en sê dit is ons eiendom.”

Die hof het uitspraak voorbehou in die ANC se hersieningsaansoek dat die MK-party se registrasie onregmatig was en nietig verklaar moet word.

Zuma het op sy mediakonferensie meer as 60 jaar die verlede ingedelf en gesê MK was nooit deel van die ANC nie. Dit was net lid van die ANC-familie. Om ’n MK-lid te wees beteken nie om ’n lid van die ANC te wees nie.

Die ANC is ’n party op sy eie. So ook die MK-party.

“En ons gaan met hulle meeding.”

Aan die einde van die mediakonferensie het ’n dansende Zuma­ saam met sy ondersteuners ’n strydlied gesing.

In die hof het adv. Dali Mpofu SC namens die MK-party betoog dat die ANC aan die slaap gevang is. Dié party het eers uit sy diepe slaap ontwaak nadat Zuma­ in Desember aangekondig het hy gaan nie vir die ANC stem nie en gaan sy gewig by die MK-party ingooi.

Voor dié aankondiging op 16 Desember verlede jaar het die regerende party hom met die registrasie­ van die MK-party versoen en die registrasie van die party aanvaar.

“Al wat intussen verander het, is die aankondiging van Zuma­ en dit is die rede hoekom ons hier is.”

Daarby gebruik die ANC ook die feestyd as ’n verskoning vir hoekom hy sy hersieningsaansoek laat en eers in Januarie ingedien­ het.

Volgens Mpofu was die ANC nalatig en hy het sy plig versaak om tydig te doen wat hy veronderstel was om te doen.

“Enige dringendheid in dié aansoek is deur die ANC self geskep,” meen hy.

Hierteenoor het Mbalula op ’n mediakonferensie gesê die ANC se regspan het in die hof oor die kwessie van tyd betoog en die saak word daar gelaat.

Die hof sal daaroor uitspraak lewer.

Volgens Mbalula sal die ANC die hof se beslissing aanvaar.

“Wen of verloor, ons sal die verkiesingstryd op voetsoolvlak voer, soos ons reeds besig is om te doen.”

Adv. Sesi Baloyi SC het namens die regerende party betoog dat die MK-party se eerste aansoek om registrasie van die hand gewys is omdat dit nie aan die bepalings van Art. 15 van die Kieswet voldoen het nie.

Die verwerping van die aansoek het nie die MK-party verhinder om ’n vars aansoek in te dien nie.

Die MK-party het egter net sy aansoek aangepas en dit weer ingedien, pleks daarvan om ’n nuwe aansoek voor te lê.

Die nuwe aansoek, wat eintlik net ’n aanvullende aansoek was, is toe wel aanvaar.

Baloyi het gesê gevolglik was die registrasie onwettig. Voorts het die MK-party ook nie die registrasie in die Staatskoerant laat publiseer nie.

Adv. Terry Motau SC het namens die Verkiesingskommissie (OVK) en die hoofkiesbeampte betoog dat dit algemene kennis is dat die MK-party uiteindelik op 7 September deur die adjunk-hoofkiesbeampte geregistreer is. Die ANC voer aan dat hy eers op 11 September hiervan te hore gekom het. Motau het betoog dat die ANC op 20 September geappelleer en versoek het dat die OVK die registrasie moet hersien en tersyde moet stel.

Die adjunk-hoofkiesbeampte het die appèlaansoek van die hand gewys.

Motau het betoog dat dit onverklaarbaar is hoekom die ANC nie dié afwysing binne die kommissie uitdaag nie, maar die kieshof nader om die registrasie te hersien en tersyde te laat stel.

“Dit is die party se fatale fout,” het Motau betoog.

You need to be Logged In to leave a comment.